Monthly Archives: February 2017

 

 

 

Abraham Polok, Emmanuel Bagchus en Brandon Gouws is baie opgewonde dat hulle skoolloopbaan agter die rug is.

 

 

Die dae kon nie vinnig genoeg verbygaan vir die matriekklas van 2016 nie.
Die dag het toe uiteindelik aangebreek waarvoor leerders 12 jaar lank wag – die einde van hul skoolloopbaan.

 

 

 

Norma Mangena wys vir haar Wiskunde-juffrou Karien du Plessis haar goeie Wiskunde-punt.

 

 

Met afwagting het hulle een vir een by die kantoor ingestap met die sweet wat hulle behoorlik afgetap het. Gaan hulle dié jaar weer in die skoolbanke deurbring of gaan hulle hul drome begin uitleef?

 

“Ons is inderdaad trots op al ons leerders,” het die hoof van HTS Nic Diederichs, Anton Strauss, gesê.

 

Die leerders is almal positief oor wat die toekoms inhou en trots op hulself dat hulle so goed gevaar het.
“Die afgelope 11 jaar van my loopbaan het redelik sy tyd gevat, maar my matriekjaar is in ‘n oogwink verby,” het Brandom Gouws gesê.

 

 

 

Samantha Smith spog met drie onderskeidings.

 

 

Samantha Smith het die meeste onderskeidings in haar groep ontvang. Sy het ten spyte van moeilike persoonlike omstandighede uitgeblink want sy glo waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg.

 

“Ek het sopas my koers in die lewe ontdek,” het Norma Mangena vertel.

 

Sy is baie opgewonde en sy voel dat sy meer bereik het as wat sy ooit sou kon droom. Haar Wiskunde-onderwyseres, Karien du Plessis, is baie trots op haar met haar hoë Wiskunde-punt.

Clinton Phakalasane is besonder trots op homself en het ‘n beurs wat deur Checkers geborg word, losgeslaan.

Die News wens al die leerders van Nic Diederichs geluk met hul uitslae.

    

Taken from

Krugersdorp News

 

 

 

 

Samantha se gesin is baie trots op haar drie onderskeidings. Hier is Arthur van Wyk, Janien van Wyk, Samatha Smith en Suné van Wyk.

 

 

Published: February 5, 2017 

 

 

 

HTS Nic Diederichs se hengelspan; Quinton Seyffert, Diaan Schutte, Kyle Slabberts, Archie Fourie, Leonard Rautenbach, Juan Roets, Jandré Jansen en afrigter Gloria Kockott.  

 

 

  Varswater oewerhengel is ‘n uiters gewilde sport in Suid-Afrika. Dit leer veral kinders respek vir die natuur en dissipline.
Sewe seuns van HTS Nic Diederichs is onlangs gekies om die Sentraal-Gauteng Varswater Oewerhengelspan by die Suid-Afrikaanse Nasionale Kampioenskappe van 9 tot 14 Desember te verteenwoordig. Dit vind plaas aan die oewer van die Bloemhofdam by Verlatenskraal.
Die Suid-Afrikaanse Varswater Oewerhengelfederasie (Savof) verwag van elke provinsie om ‘n skoleprojek te skep. Die sport verg baie oefening en die hengelaars oefen gereeld op die skool se veld om hul lyne ver te gooi.
“Om te hengel is 90 persent tegniek, vyf persent oefening en vyf persent geluk, en as die tegniek deur oefening vir hul geleer word, is hulle al 90 persent op die regte pad,” het Sentraal-Gauteng se tesourier, Gloria Kockott gesê.
Nic Diederichs se hengelaars is spesifiek gekies omdat een van hul onderwysers, Charl de Beer, baie geïnteresseerd is in die sport en ook graag die sport beoefen.
“Hengel maak ‘n mens se kop skoon,” het een van die spanlede, Kyle Slabberts gesê.
‘n Maand gelede het die seuns vir die eerste keer aan ‘n kampioenskap by die Vaaldam deelgeneem en ‘n vierde plek behaal. Hulle moes in ‘n kort tydjie R3 300 elk bymekaarmaak om aan die kampioenskappe te kon deelneem. Hulle het gaan blikskud, worsrolle verkoop en ook lootjielyste gebruik om geld in te samel. Hulle het egter nog nie genoeg geld nie en is op soek na borge.

 

“Mense maak ‘n groot fout as hulle dink dit is lyne in die water gooi en los. Die seuns werk vir vyf dae van 7vm tot 3nm baie hard op die oewer. Hul geduld en deursettingsvermoë word absoluut getoets,” het Gloria vertel.

 

Die span beplan om volgende jaar ‘n hengelspan vir persone met gestremdhede te skryf. Die spanlede het gesê hulle wil graag meer hengelaars lok om saam met hulle aan die sport deel te neem. Hulle glo dat alles in die lewe moontlik is, mits jy dit wil bereik.

    

Taken from

Krugersdorp News

 

Published: February 5, 2017